'n Tuisonderrig program wat eenvoudig uitgelê is vir tuisgebruik deur ouers of opvoeders. Ons doelwit is om kleuters te leer d.m.v. lekker aktiwiteite en speletjies wat met die oog op skoolgereedheid al die volgende ontwikkelingsareas dek:
- Temas (Algemene Kennis)
- Grootmotories
- Fynmotories
- Visuele Persepsie
- Ouditiewe Persepsie
- Taal & Denke
- Wiskunde
- Kuns
Indien die opvoeder die program getrou volg sal die kleuter al sy/haar vaardighede ontwikkel en heeltemal gereed wees om later met gemak van ons program af by 'n skooltjie aan te sluit of aan die einde van die program na Gr.R oor te gaan.
![]() |
![]() |
WAT BEHELS DIE PROGRAM?
- 40 Temas
- 4 Kwartale
- Daaglikse lesbeplanning.
- Altyd meer as een aktiwiteit per dag wat weekliks al die ontwikkelingsareas dek.
- Lede ontvang saam met lesbeplannings ook alle nodige werkvelle, flitskaarte en tema hulpmiddels alles in PDF-formaat.
- Beskikbaar in Afrikaans en Engels.
MEER OOR DIE ONTWIKKELINGS AREAS:
1. TEMABESPREKINGS
Temas word spesifiek gekies om kleuters se algemene kennis uit te brei en belangstellings te prikkel. Dit bevorder ook spraak- en taalontwikkeling.
2. RYMPIES
Rympies is belangrik vir spraak- en taalontwikkeling asook geheue.
3. KLEUR & VORM
Kleur- en vormherkenning ontwikkel woordeskat en die vermoë om abstrak te dink. Dit help ook om letters en syfers te herken om te kan skryf, lees en somme maak.
4. LIGGAAM
Liggaamsbewussyn bou selfvertroue en onafhanklikheid omdat die kind sy/haar eie liggaam, en wat dit kan doen, ontdek.
5. POSISIE
Ruimtelike oriëntasie is die sleutel tot beplanning, organisasie en logiese redenasie. Hierdie vaardigheid is belangrik vir visuele en ouditiewe persepsie, die natrek van vorms, skryf, spelling, lees en somme maak.
6. KUNS/TEMA AKTIWITEIT
Bevorder kreatiwiteit, fynmotoriese vaardighede, selfvertroue, probleem oplossing ens.
7. FYNMOTORIES
Fynmotoriese vaardighede is belangrik vir potloodgreep, teken, knip, skryf, aantrek, handvaardigheid en oogbewegings.
8. GROOTMOTORIES
Grootmotoriese vaardighede is belangrik, want dit ontwikkel spiertonus, spierbeheer, balans, koördinasie en onafhanklikheid. Hierdie vaardigheid ontwikkel al die groot spiere in die liggaam soos die arms, bene, maag, rug en skouerspiere. Dit is uiters belangrik en word ook gebruik om beter beheer oor die fynmotoriese spiere te verkry.
Spiertonus en balans help ook om stil en regop te sit sonder enige steun, wat baie belangrik is om later in die klas te kan aandag gee omdat die kind nie heeltyd hoef rond te skuif nie.
'n Kind kan slegs sy/haar middellyn kruis as sy/haar groot- en fyn spiere goed ontwikkel is. Middellynkruising is krities belangrik vir teken, knip, verf, legkaart bou, en later vir skryf, lees en spel.
'n Kind kan slegs sy/haar middellyn kruis as sy/haar groot- en fyn spiere goed ontwikkel is. Middellynkruising is krities belangrik vir teken, knip, verf, legkaart bou, en later vir skryf, lees en spel.
9. VISUELE PERSEPSIES
Visuele persepsie is wanneer die oë en die brein as 'n span saamwerk sodat 'n kind kan lees, skryf, spel en somme maak.
10. OUDITIEWE PERSEPSIES
Ouditiewe persepsie is wanneer die ore en die brein as 'n span saamwerk sodat 'n kind instruksie kan volg, opdragte uitvoer en taal kan aanleer.
11. GETALBEGRIP
Goeie getalbegrip is nodig vir syfergeletterdheid en om somme te kan maak. Syfers kom oral voor en is nodig sodat 'n kind kan bel, met geld kan werk, 'n bankkaart kan hê, ens.
Hier wil ons ook net noem dat daar soms staan die kleuter moet bv. net tot by 4 tel. Al kan hy/sy reeds tot by 10 of selfs 50 tel. Die kleuter moet mooi na die opdrag luister, konsentreer, onthou wat jy gevra het en dan net tot daar tel. So oefen ons ook GETALBEGRIP en nie net tel soos 'n rympie nie.
12. TAAL & DENKE
Denkvaardighede is ontwikkel wanneer 'n kind self antwoorde kan kry, deur in 'n boek te kyk, self onthou of iemand wat weet te vra ens. 'n Kind wat self kan dink en planne maak, is skoolgereed.
13. EMOSIONELE VAARDIGHEDE
Emosionele ontwikkeling en onafhanklikheid is die essensie van leer, motivering en aanvaarding deur self en ander.
Moedig emosionele ontwikkeling aan deur:
- Hom/haar self te laat aantrek, knope en skoene vas te maak wanneer hulle gereed is.
- Speel bordspeletjies of balspeletjies sodat die kind vir 'n beurt moet wag. Laat hom/haar toe om soms te verloor.
- "Nee!" te sê en nie 'n emosionele uitbarsting toe te laat nie.
- Hom/haar self te laat opruim.
- Hom/haar self na troeteldier/e, speelgoed en besitting te laat omsien.
- Hulp met huistakies te verwag.
14. SOSIALE VAARDIGHEDE
Sosiale vaardighede help 'n kind om met ander kinders en in groepe oor die weg te kom. Hierdie vaardighede help om maats te maak, om vir 'n beurt te kan wag, impuls om te beweeg of antwoord uit te skree te beheer en maak aanpassing in 'n nuwe omgewing makliker.
- Moedig die kind aan om speelgoed te deel en beurte te maak.
- Skep geleentheid dat die kind fantasiespeletjies soos polisie-polisie, huis-huis, pop, ens. speel.
- Dring aan op "asseblief" en "dankie".
- Moedig selfstandigheid aan.
![]() |
![]() |
Sien PDF voorbeelde van ons temas:
https://kreukelneusies.co.za/tuisonderrig-program#sigProId63b8b2150a



